Jou redding

Jou redding

Hoe om jou hart vir Jesus te gee.

Welkom by die mooiste verhaal ooit!

1. Dit het alles by liefde begin

Nog voordat jy jou eerste asem gehaal het, het God jou geken. Hy het jou met liefde geskep en Sy grootste begeerte was nog altyd om naby jou te wees. Jy is nie toevallig hier nie. Jy is doelbewus geskep deur 'n Vader wat jou innig liefhet.

Maar as gevolg van sonde het daar 'n skeiding tussen ons en ons verhouding met God gekom. Dit was nie omdat God ons nie meer lief gehad het nie, maar omdat ons nie meer self die pad terug na Hom kon vind nie.

“Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.”
Romeine 3:23

2. Tog, het God jou nie gelos nie

God se liefde was groter as die skeiding en daarom het Hy Sy Seun, Jesus, gestuur. Jesus het besluit om as God in menslike vorm tussen ons te kom leef. Hy het gekies om hier op aarde in ons seer te deel, ons uitdagings te ervaar en selfs ons plek teen die kruis in te neem - sodat daardie gebroke verhouding tussen ons en God herstel kon word. Jesus het Sy lewe namens ons verloor, sodat ons weer deur geloof in Hom die lewe kon vind. Genadiglik was die kruis nie die einde nie, maar die nuwe begin! Drie dae nadat Jesus teen die kruis gesterf het, is die klip voor die graf weg gerol, en het Hy uit die dood uit opgestaan!

Die kruis was nie God se manier om jou skuldig te laat voel nie. Dit was Sy manier om vir jou te wys hoe ver Hy bereid was om te gaan om jou terug na Hom toe te bring.

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”
Johannes 3:16

3. Die uitnodiging is oop

Vandag nooi Jesus jou om na Hom toe te kom.

Hy vra nie dat jy eers jou lewe moet regkry nie. Hy vra nie dat jy volmaak moet wees voordat Hy jou sal liefhê nie. Hy nooi jou uit om te kom - net soos jy is - om Hom te leer ken.

Wanneer jy jou hart vir Jesus gee, word jou verhouding met God herstel. Hy gee vir jou Sy Heilige Gees om jou elke dag te lei, te troos en jou te help om al hoe meer soos Jesus te word. Jy word deel van God se familie en ontdek wat dit beteken om Sy geliefde dogter te wees.

As jy vandag jou hart vir Jesus wil gee, kan jy hierdie eenvoudige gebed bid:

“Jesus, dankie dat U my nog altyd liefgehad het. Dankie dat U vir my aan die kruis gesterf het en weer opgestaan het, sodat ek weer naby aan God kan leef. Vandag plaas ek my hart in U hande. Vergewe my sondes, was my skoon en vul my met U Heilige Gees. Jesus, help my asseblief om elke dag te kies om U beter te leer ken en U met my hele hart te volg. Dankie dat ek nou aan U behoort. In Jesus se Naam, Amen.”

Welkom by God se familie!

As jy vandag hierdie besluit geneem het, wil ons saam met jou feesvier.

Die Bybel sê dat elkeen wat sy vertroue in Jesus plaas, 'n kind van God word. Jy hoef nie alleen te stap nie. God stap saam met jou, en ons as Haar Hartklop wil graag saam met jou hierdie reis aanpak.

Welkom tuis, liewe sussie in Jesus!

Ons Wil Jou Ondersteun

As jy 'n besluit vir Jesus gemaak het, of meer wil weet, voltooi die vorm hieronder. Iemand van ons span sal jou kontak.